Ewald Calitz Fine Art
Waterverf Elemente (Afrikaans)
Waterverf Elemente (Afrikaans)
Couldn't load pickup availability
Share
Belangrike aflaai inligting
Om jou PDF aflaai skakel te ontvang is dit baie belangrik dat ons jou e-pos adres het. Vul asseblief jou e-pos by checkout in, selfs al wil jy nie inteken nie. Laat dan net die boksie ongemerk.
As jy nie in Suid-Afrika bly nie, kan jy die Engelse werkboek by die volgende skakel aanskaf: BuyMeaCoffee
Agtergrond
Waterverf Elemente is 'n werkboek in PDF formaat wat ontwikkel is met die oog op beginners. Aangesien ek self onlangs ‘n beginner was, is dit nog vars in my geheue wat ‘n beginner se behoeftes is. Ek het in skilderklasse en -werkswinkels gesit en nie geweet waar om te vat en waar om te los nie. YouTube tutoriale het my net genoeg gehelp om my nie te help nie. Ek het na nege maande se sukkel my verfkwassies weggebêre, en moed opgegee. Agt maande later sou ek dit ‘n tweede kans gee. Eers meer as ‘n jaar en ‘n half nadat ek begin het, het ek begin insien hoe waterverf nou eintlik werk.
Waterverf is ‘n wonderlike medium. Dit het vir my ‘n deur oopgemaak tot ‘n persoonlike eiland waarheen ek kan ontvlug om myself te wees. Om hierdie rede en omdat ek so goed verstaan hoe verwarrend alles aan die begin kan wees, het ek werkswinkels ontwikkel wat al die vrae probeer beantwoord waaroor ek daar heel aan die begin gewonder het. My doel daarmee is om ook vir ander die wonderlike wêreld van waterverf te ontsluit.
Een van my aanvanklike struikelblokke was om iets te hê om te verf. Ek het al die tegnieke gesien, maar wat kan ek teken om die tegnieke toe te pas? Dit het gelei tot hierdie werkboek.
Waterverf Elemente Werkboek
Die oogmerk van hierdie boekie is om mense te help om ‘n verfbare prentjie saam te stel. Die rede daarvoor is dat teken en skilder twee verskillende vaardighede is. Uiteindelik is dit die ideaal om beide vaardighede baas te raak, maar as teken nie jou sterkpunt is nie, sal dit fantasties wees as daar iets is om jou te help om solank skilder as vaardigheid aan te leer, terwyl jy mettertyd ook teken onder die knie kry.
Hierdie boekie is bedoel as ‘n kortpad om die vaardigheid van teken te omseil en vinnig by verf uit te kom. Dit bevat 'n verduideliking hoe om van die boekie gebruik te maak, 'n uiteensetting van basiese komposisie, en 'n verskeidenheid van elemente wat saamgevoeg kan word tot 'n verfbare prentjie. Jip, dit beteken dat jy gaan afteken, maar selfs wanneer jy afteken is jou brein besig om konneksies te maak wat jou oor tyd sal help om ook te leer teken. Dis ‘n wen-wen as jy my vra.
En, as jy inteken op my maandelikse nuusbrief, het jy die bykomende voordeel om saam met elke nuusbrief nog ‘n bladsy van waterverf elemente gratis hier by te voeg.
Indien jy ook meer wil leer oor waterverf tegnieke, kan jy my waterverf wenke en lesse op YouTube sien deur hierdie skakel te volg: Coffee Cake Color
72 bladsye
Slegs vir persoonlike gebruik. Geen afskrifte van die boekie as geheel of gedeeltelik mag gemaak word vir verspreiding nie.




